Tuesday, May 29, 2007

'GOD EN DIE MAUSER'

'GOD EN DIE MAUSER'



Ben Viljoen - die vergete Boeregeneraal
deur M S Coghlan (Natalse Provinsiale Museumdiens)


Ben Viljoen se betrokkenheid by Newcastle tydens die Tweede Vryheidsoorlog was net vlugtig, maar sy naam het nou verbonde geraak aan die dorp, waarskynlik vanweë sy prominente politieke en militere loopbaan in die Zuid-Afrikaansche Republiek en sy latere prestasies in die Verenigde State en Mexiko. Gedurende die Boere se besetting van Newcastle (Oktober 1899 tot Mei 1900), is die dorp hernoem tot Viljoensdorp en die huidig wapenskild sluit die familiewapen van die Viljoen-familie in.
Viljoen se opwindende en uiteenlopende verhaal lees byna soos 'n Rider Haggard-avontuur. Sy betrokkenheid by die twee oorloë in twee verskillende werelde ewenaar die loopbane van roem-ryker kollegas soos Louis Botha en De Wet. Ten spyte hiervan, en 'n reisprogram wat Umtata, St Helena en Mexiko ingesluit het, is hy vandag relatief onbekend.
Viljoen is op 7 September 1869 in die distrik Wodehouse in die Kaapkolonie gebore en het grootgeword op die plaas Varkiesdraai, naby Umtata, in die teenswoordige Transkei, waar hy waarskynlik die veldkennis opgedoen het wat hom goed te pas gekom het tydens die Tweede Vryheidsoorlog. Hy is in 1889 op Umtata met sy eerste vrou, Helena, getroud.
Nadat hy in 1890 na Johannesburg verhuis het, het Viljoen prominent geword in burgerlike sake en joernalistiek, maar sy vernaamste belangstelling het in militêre aangeleenthede gelê. In 1896 het hy die Krugersdorpse Vrywilligerskorps gestig (min of meer vergelykbaar met die Natalse vrywilligersregimente soos die Natal Carbineers) en het die stryd aangepak teen die Jameson-invallers (Desember 1895 tot Januarie 1896) en swart kapteinskappe. As die lid vir Krugersdorp in die Volksraad, het Viljoen president Kruger teengestaan en wou die Uitlandergeskil oplos. Toe die oorlog teen Engeland egter onvermydelik geword het, het hy by die konflik betrokke geraak met 'n entoesiasme en toewyding wat selde afgeneem het, en het hy sy geloof, soos hy dit gestel het, op 'God en die Mauser' gevestig.
As 'Vegtende Kommandant' van die Johannesburgse Kommando, het Viljoen sy manne, laat in September 1899, by Volksrust bymekaargeroep waar twee vrywilligereenhede, die Duitse- en Hollandse korpse hulle by hom aangesluit het. Op die aand van 11 Oktober het sy kommando die Natalse grens oorgesteek en laer getrek saam met die hoof Natalse invalskolonne by Schuinshoogte (Ingogo), die terrein van 'n Boere-oorwinning gedurende die Eerste Vryheidsoorlog van 1881.
Boerekommando's is tussen 14 en 17 Oktober deur Newcastle op pad na die Natalse front. Min inligting is beskikbaar oor die permanente besetting van die dorp, alhoewel dit gedien het as 'n kommissariaatsbasis (dit was voor die mobiele guerillafase van die oorlog en Boere-kolonnes is belemmer deur lomp rye voorradewaens soos in die Britse Leër). 'n Russiese Rooikruis ambulanskorps was vir 'n kort rukkie by die klooster gestasioneer (tans bekend as die St Dominic's Academy) en Boerevroue wat hul mans vergesel het, het skynbaar hul basis in Newcastle gemaak. Kommandant-generaal Piet Joubert, 'n veteraan van die 1881-seges in die gebied, het 'n vrederegter aangestel (ene mnr J Moodie), wapens gekonfiskeer, 'n aandklokreel ingestel en wette vir die administrasie van die dorp uitgevaardig.

Kommando's wat in 1899 na die front vertrek
Ondanks desperate pogings in Oktober om Newcastle te versterk, is die inwoners van die dorp gedwing om die dorp grootliks te ontruim toe die Britse owerhede, huiwerig om 'n herhaling van generaal Colley se rampspoedige veldtog teen die Boere in die berge noord van die dorp in 1881 te waag, besluit het om nie Newcastle se grens te verdedig nie. Een van die min oorblywende Engelse koloniste het die volgende opmerking gehad oor 'n Boerekommando wat Newcastle binnegekom het na 'n maand in die veld:
'Hulle was 'n 'vuil, slordige spul met allerhande goed aan hulle saals vasgemaak - teeketels, sambrele, vleis (biltong), komberse, ens ...' Daar is ook melding gemaak van die plundering wat algemeen toegeskryf is aan Viljoen se Johannesburgse Kommando. Ondanks amptelike pogings om 'n inventaris van meubels op te stel, is private huise en besighede ewe erg getref. Wanneer daar geglo is dat meubels aan Britse simpatiseerders behoort het, is dit in en om die stadsaal opgestapel met die doel om, volgens sekere bronne, die gebou af te brand. Een onbevestigde verhaal vertel van dinamiet wat onder die vloerplanke van 'n kleedkamer versteek is. Dit is gelukkig nooit gebruik nie. Viljoen maak ook geen melding van hierdie voorvalle nie, maar erken wel dat terugwykende kommando's hulle in 1900 aan geïsoleerde gevalle van vandalisme skuldig gemaak het. Altyd optimisties, en ondanks die lesse wat in 1881 geleer is, was die kanniedood Engelse oorblywendes in Newcastle, minagtend teenoor die Boere se wapens, seker dat die deurmekaar spul Boere spoedig die aftog sou blaas. Hulle was opreg verbaas toe hulle Britse gevangenes sien wat in die veldslae om Ladysmith gevange geneem is.

Geplunderde meubels buite die stadsaal van Newcastle
Gedurende die Boere se haltopstelling by Newcastle is 'n algemene krygsraad gehou, óf op Schuinshoogte op 14 Oktober, óf op Newcastle op 17 Oktober, om die verdere verloop van die oorlog te bespreek. Die besluit, soos dit Viljoen geraak het, het die besetting van die Biggarsbergreeks behels. Alle oortollige voorraad en ammunisiewaens is op Newcastle agtergelaat en Viljoen se verkenners het die pad noorde toe gevat. Ongelukkig vir hom, het 'n roekelose en ongeko-ordineerde aanval op die Elandslaagtestasie deur 'n mag onder generaal Kock, die Boere daar geïsoleerd en kwesbaar gelaat.
Tydens die daaropvolgende slag van Elandslaagte (21 Oktober), het die Boere hulle eerste nederlaag van die oorlog gely, alhoewel die Britte meer name verloor het. Na 'n heldhaftige verset, het Viljoen die agtervolgende ruitery ontwyk en koers gekies na Newcastle oor Waschbank en Dannhauser en net-net daarin geslaag om gevangeneming deur twee Engelse spoorwegwerkers by Waschbank vry te spring. By Elandslaagte het Viljoen gebots met die Imperial Light Horse wat hoofsaaklik bestaan het uit uitgeweke Uitlanders van Johannesburg wat in Natal gewerf is. Dit is ironies dat sommige van hulle vóór die oorlog kennisse van hom gewees het.

Offisiere van die Johannesburgse Vrywillige Korps[Hierdie opskrif is verander n a v die inligting in Vol 9 Nr 3]
Viljoen het met sy meerdere, genl Joubert, gebots oor die fiasko by Elandslaagte en laasgenoemde was woedend oor die skynbare ongehoorsaamheid van die kommando's. Dit het gelyk asof Joubert dit op sy kommando, wat hom na Newcastle voorafgegaan het, uitgehaal het en 'n bitter Viljoen het die res van die Natalse veldtog daaraan gewy om sy kommando se naam in ere te herstel. Nieteenstaande sy eie bedenkinge betreffende Elandslaagte, was dit maar Viljoen se eerste botsing met verouderde veterane soos Joubert. Dit is ironies, Joubert se kwalik bedekte skimpe oor die lafhartigheid van die kommando in ag genome, dat daar min twyfel bestaan dat indien meer jong leiers van Viljoen se kaliber gouer na vore getree het, die uitslag van die Natalse veldtog anders sou gewees het. Deur uitermatige versigtigheid en, in Joubert se geval, selfs bygelowigheid, is die inisiatief by talle geleenthede verloor.

Generaal Piet Joubert nuttig ontbyt by Newcastle op weg na die Natalse front, 1899. Die buitensporige versigtigheid van die verouderde leier het Viljoen en ander jong kommandante gefrustreer
Tot Viljoen se ergernis het sommige van sy burgers moed verloor en huis toe gegaan na hulle traumatiese vuurdoop. In 'n vurige toespraak by Newcastle het hy die oorblywendes aangespoor om na die front terug te keer en hulle eer te herstel. Na die aanvulling, of te wel, 'toe-eiening' van voorraad wat by Elandslaagte verloor is en die versameling van sy kommissariaat-waens wat op Newcastle agtergelaat is, het Viljoen Joubert se bevele tot die teendeel verontagsaam en hom by die hoof Boereleer rondom Ladysmith aangemeld. Dit was egter in die gevegte langs die Tugela dat sy kommando hulle onderskei het, veral by die slag van Vaalkranz (5 tot 7 Februarie 1900), waar hy gewond is.

'n Terugvallende Boerkolonie[?] in Newcastle, 1900
Gedurende die Boere se terugval deur die Biggarsbergreeks na die aflossing van die beleg van Ladysmith het Viljoen 'n stelling by Van Tondersnek naby Pomeroy beleër. Hy is weereens gefrustreer deur agterlosige Boeretaktiek toe die Britte van flank verander het by Helpmekaar, ondanks sy waarskuwings oor die belangrikheid van die stelling. Gedurende die terugval noord het families van die Natalse Afrikaners uit die Ladysmith- en Newcastle-gebied 'n klein vlugtelingprobleem veroorsaak. Viljoen het gesê dat Newcastle self byna verlate was, buiten die paar Britse onderdane wat 'n eed van neutraliteit teenoor die Boere geneem het. Hy het gekla oor plundering deur 'Natalse Kaffers' met, volgens hom, die stilswyende goedkeuring van die Imperiale troepe en die Natal Colonial Irregulars. Hy was minder uitgesproke in verband met die Boere se brandstigting en plundery en het voorvalle as geïsoleerd en buitengewoon afgemaak.
Na die ineenstorting van die Natalse front het Viljoen hom by die Boeremagte aangesluit wat probeer het om die hoof Britse opmars na Pretoria te stuit. Hy het die ineenstorting van die hoof Boereleirs oorleef na die val van sy tuisdorp, Johannesburg, in Junie 1900 en het na die ooste uitgewyk saam met Botha. Die einde van die konvensionele of posisionele fase van die oorlog het in September 1900 begin. Dit het die begin van Viljoen se merkwaardige suksesse as 'n veggeneraal gekenmerk gedurende die langdurige guerilla-oorlog. Nadat hy sy gesin na Europa gestuur het, het hy 'n gemengde mag van burgers uit Krugersdorp, Johannesburg en Boksburg in Noord- en Oos-Transvaal aangevoer. Sy aggressie, dissipline en taktiese vaardighede het vir hom sukses besorg en hy was een van die eerste Boeregeneraals wat die beroemde 'tref-en-trap'-tegniek toegepas het, veral teenoor spooraansluitings. In November 1900 is hy as assistent kommandant-geeneraal aangesteel, die naas hoogste rang in die Boeremagte, en was verantwoordelik vir die voortsetting van die Boereweerstand in 1901, 'n jaar waarin vele oorgegee het. Onder sy prestasies het getel die afweer van 'n Britse kolonne gelei deur ene generaal Paget wat spesifiek gestuur is om met hom klaar te speel. Hy is uiteindelik op 25 Januarie 1902 op Lydenburg in 'n lokval gelei en gevange geneem.

'Generaal Ben Viljoen. Die wakker Boer wat aan ons baie probleme besorg het.' Uit die Britse Leërtydskrif Black and White Budget
Tussen Januarie en Mei 1902 was Viljoen 'n gevangene op St Helena, waar hy sy lewensbeskrywing te boek gestel het, My Reminiscences of the Anglo-Boer War. Sy terugkeer na Suid-Afrika was traumaties. Anders as die meeste Boereleiers, was hy nie 'n grondeienaar nie, en hy het geweier om Britse burgerskap te aanvaar - noodsaaklik vir 'n openbare loopbaan. Hy was kwaad oor gerugte dat sy gevangeneming samewerking met die vyand kon ingesluit het. Hy was ook gekrenk deur die ophef wat oor die roem van kollegas soos De Wet en De la Rey gemaak is.
Na 'n leesingtoer deur Engeland, het Viljoen hom in Januarie 1903 in die Verenigde State gevestig waar hy waarskynlik die opwindendste en mees buitengewone fase van sy loopbaan betree het. Dit was tragies dat sy vrou, wat hy beswaarlik gesien het in 'n tydperk van drie jaar, geweier het om Suid-Afrika te verlaat. Hulle is uiteindelik geskei en Viljoen is later weer getroud. Hy het verskeie ander boeke oor die oorlog geskryf, het saam met president Theodore Roosevelt in die Wit Huis ge-ëet en is burgerskap van die VSA aangebied. Ondanks sy besluit om te emigreer, was Viljoen huiwerig om sy bande met Suid-Afrika te verbreek. 'n Boere-nedersetting in die noorde van Mexiko was van korte duur en nie 'n sukses nie, alhoewel sy ouers, broer en seun, Wynand, hulle almal by hom in die VSA aangesluit het.

Vijoen en Madero
In 1904 het Viljoen, generaal PA Cronjé en 'n paar gewese Britse soldate in St Louis, Missouri, deelgeneem aan 'n militêre vertoning oor die Tweede Vryheidsoorlog. Alhoewel dit in die VSA gewild was, is dit in Suid-Afrika gekritiseer, moontlik deur diegene wat Viljoen verdink het van wangedrag gedurende die oorlog. Na die mislukking van sy Mexikaanse onderneming, het Viljoen hom gevestig naby La Mesa in die aangrensende VSA-streek New Mexiko, burgerskap van die VSA aanvaar en by plaaslike politiek betrokke geraak. Hy het deel gehad in die streek se toelating tot die Unie as die 47ste Staat (1912). In 1912 het sy militêre en diplomatieke aansien aan hom die pos van militêre adviseur vir die Mexikaanse revolusionêr, Francisco Madero besorg. Sy kort loopbaan as 'n Mexikaanse diplomaat (tot en met Madero se dood in 'n teenrevolusie in 1913), het 'n tydjie as konsul in Duitsland ingesluit. Hy het toe reeds gesondheidsprobleme ondervind en op sy plaas by La Mesa afgetree, waar hy op l4 Januarie 1917 oorlede is. Op sy graf is 'n eenvoudige, gegraveerde vaas.


BibliografieViljoen, General Ben. My Reminiscences of the Anglo-Boer War, 1903, September 1973. Beyers, C J. Dictionary of SA Biography, Vol IV. 1981. Kruger; D W. 'Boere-Generaal maak rewolusie in vreemde land: Die romantiese verhaal van Ben Viljoen' in Die Huisgenoot, 25 Januarie 1974. Anonieme berig oor die ontruiming van Newcastle en die besetting van die dorp deur Boeremagte (Oktober 1899

rapidttp.com/milhist/vol092mc.html